Besit Jouself deur Selfliefde
’n Rou, eerlike en ‘n hoopvolle reis terug na jou ware self.
In hierdie boek neem Sunet Smit jou saam op ’n pad wat nie versuiker word nie, ’n pad deur seer, verlies en die stille gevegte wat ons almal ken. Maar dit is ook ’n pad van herstel, van selfliefde wat stadig maar seker die lig word wat jou teruglei na jou eie waarheid.
Met ’n stem wat tegelyk sag en sterk is, wys sy hoe maklik ons onsself kan verloor in verhoudings, verwagtinge en die drang om aanvaar te word. En sy wys jou hoe om dit terug te neem, nie in groot spronge nie, maar in klein, bewuste stappe wat jou weer heel maak.
Hierdie boek is vir elkeen wat emosioneel moeg is. Vir die een wat voel dat grense lankal oortree is, en wat nou gereed is om sy of haar eie lewe te besit. Vir die een wat hunker na ’n lewe van integriteit, innerlike vryheid en egtheid.
Dit gaan nie oor perfek wees nie.
Dit gaan oor om volkome jouself te wees.
As jy gereed is om op te hou om jouself weg te gee en te begin leef vanuit jou eie waarheid, begin jou reis hier, met woorde wat teen jou skouer rus soos ’n stille hand, wat jou lig wanneer jy struikel, en ’n stem wat fluister deur elke bladsy: jy is genoeg.